In Memory

Herman Pieterse (Oorlede)



 
  Post Comment

10/13/11 06:22 AM #1    

Velma Jacobs (Barnard)

Nov 1991 Was aan diens van die SAP doodgery

 

 

Knap jong SAP-lid langs pad doodgery

ILLUSTRASIE:foto: Onder-sers. Herman Pieterse (23)

Louise Laubscher

KLERKSDORP. 'n Jong polisieman van Klerksdorp is gisteroggend vroeg
langs sy polisiemotor raak gery en 60 m ver geslinger kort nadat hy
op die skouer van die pad stilgehou het om 'n verdagte motor voor te
keer.
Hy is na bewering deur dié motor getref.
Onder-sers. Herman Pieterse (23), '' 'n toegewyde polisieman
wat dit nog ver sou bring in sy loopbaan'', is vermoedelik op slag
dood.
In nog voorvalle waarin polisiemanne in die naweek betrokke
was, is twee blanke en een swart polisieman van Soweto beseer twee
ernstig nadat hulle naby Wenen in 'n swart woongebied in 'n lokval
gelei en daar op hulle geskiet is. 'n Swart konstabel is naby
Standerton doodgeskiet. (Lees die volledige berig op bladsy 2.)
'n Blanke man van 24 is kort ná sers. Pieterse se dood sowat
400 m van die ongelukstoneel in hegtenis geneem. 'n Moorddossier is
geopen, het 'n woordvoerder van die Polisie in Wes-Transvaal gesê.
Die jong vrou van die man wat in hegtenis geneem is, was
gisteroggend vroeg by sers. Pieterse se ouers, mnr. Gerrie en mev.
Muriel Pieterse van Cilliersstraat op die dorp, om haar meegevoel te
betuig en haar spyt uit te spreek.
Mnr. Pieterse het gister bedroef gesê hulle verwyt niemand vir
die dood van hul enigste seun nie. ''Ons is nie haatdraend nie. Dit
is nie vir ons om te verwyt nie. Herman se dood was die wil van 'n
Hoër hand.''
''Hy was gelukkig in die Polisie. Dit was sy lewe,'' het mev.
Pieterse bygevoeg. Die egpaar het gisteroggend omstreeks 1:15 van
hul seun se dood gehoor.
Volgens 'n woordvoerder van die Polisie is 'n klagte van
rusverstoring gisteroggend sowat 'n halfuur voor sers. Pieterse se
dood van 'n vrou by Die Koffiekan, 'n eet- en dansplek, ontvang.
Polisiemanne, onder wie sers. Pieterse, is daarheen.
Terwyl sers. Pieterse en konst. Rossouw Visser na die dansplek
onderweg was, het 'n jong man en sy vriend die perseel van die
dansplek verlaat. 'n Polisieman, wat toe reeds daar aangekom het,
het sers. Pieterse per radio laat weet om op die uitkyk te wees vir
die twee mans se motor.
Sers. Pieterse het aan die regterkant van die pad op die skouer
van die pad stilgehou. Hy het die deur aan die regterkant oopgemaak
om uit te klim.
Oomblikke daarna het 'n motor die deur van die polisiemotor
getref. Sers. Pieterse is weens die geweld van die botsing 60 m ver
die veld in geslinger, het die woordvoerder gesê.
Kol. Hendrik Nortjé, adjunk-distrikskommissaris van die Polisie
op Klerksdorp, het gister gesê sers. Pieterse was een van sy beste
manne op buitedienste. ''Hy was 'n dierbare mens, 'n goeie werker en
'n aanwins vir die mag.''
Sers. Pieterse laat ook sy ouer suster, mev. Marinda Jonker, en
twee oumas, mev. Vossie Vorster en mev. Pietie Pieterse, agter. Hy
sal aanstaande week met militêre eer uit die Hervormde gemeente
Wilkoppies op Klerksdorp begrawe word.


KATEGORIE: polisie werkers motorongelukke moord


  Post Comment